Tafelberg Afrikaans creative writing workshops
Tafelberg-Uitgewers bied ‘n slypskool aan om saam te val met die Kleinkaroo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn. Dié kursus wys jou:
1. Hoe die letterkunde jou leer sien, luister en voel sodat jy kan skryf.
2. Hoe jy teen clichés stry: Konvensie, rebellie en die vind van ’n eie stem.
3. Hoe jy ’n storie vertel: Plot, argument en voortvloeiendheid.
4. Om sommige goed ongesê te laat: Suggestie en implikasie as vertelstrategie.
5. Om jou karakters net die nodige te laat sê: Die moontlikhede en slaggate van dialoog.
6. Hoe om agter te kom wat die sterk punt van jou skryfwerk is en daarmee te woeker.
Alle deelnemers sal gekeur word. Daar is beperkte plek beskikbaar om individuele aandag aan elke deelnemer te verseker. Stuur asseblief ‘n kortverhaal of twee hoofstukke uit ‘n roman (minimum lengte: 2 000 woorde) na Danita van Romburgh by die volgende e-pos-adres: dvanromb@nb.co.za
Sperdatum vir die lewering van materiaal: Woensdag, 7 Maart 2012
(Slegs elektroniese voorleggings sal aanvaar word.)
Datum van die slypskool: Donderdag, 5 April tot Vrydag, 6 April 2012
Plek: Oudtshoorn (die lokaal sal later bevestig word)
Koste: R1 500 (etes en verversings ingesluit)
Studente mag gratis deelneem, maar sal ook gekeur word.
Rig enige navrae direk aan Riana Barnard by rbarnard@tafelberg.com of 021 406 2757 / 082 344 8850.
Meer inligting oor die aanbieders:
Francois Smith het ’n draai in die ingenieurswese, onderwys en joernalistiek gemaak het voordat hy hom op sy ware roeping, die letterkunde, toegespits het. Sedert 2005 is hy ’n vryskut-uitgewersredakteur, behaal in 2007 aan die Universiteit van Kaapstad ’n Ph.D. in letterkunde en help intussen verskeie top- en beginnerskrywers om sukses te behaal of die potensiaal van hul werk te verwesenlik. Van die publikasies wat onder sy leiding ontwikkel is, is P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides, die twee volumes van Elsa Joubert se outobiografie, Dan Sleigh se Afstande en Wals met Matilda, Welma Odendaal se ’n Landskap met diere, die digbundels van Gilbert Gibson, Danie Marais en Loftus Marais, Eben Venter se Santa Gamka en Piet Steyn se suksesvolle Pine Pienaar-speurreeks. Daarby is hy ook ’n vertaler van onder meer Ray Kluun se ’n Vrou gaan dokter toe (uit die Nederlands) en die biografie Op pad met David Kramer (uit die Engels).
Danie Marais het die Afrikaanse letterkunde soos ’n bom getref. Sy poësiedebuut, In die buitenste ruimte (2006), is met die Eugène Marais-, Ingrid Jonker- en die Universiteit van Johannesburg-debuutprys bekroon. Sy tweede bundel, Al is die maan 'n misverstand (2009), het ’n Suid-Afrikaanse Letterkundeprys gewen. Hy het in die handelsreg en onderwys gestudeer, was die samesteller van die bloemlesings Nuwe stemme 4 (poësie) en As almal ver is (prosa) en is tans besig om onder leiding van Marlene van Niekerk aan ’n roman te werk. Daarby is hy ’n deurwinterde joernalis en radio-aanbieder, ’n ervare skrywer vir verskeie media en in verskillende genres.