Book Extract

Download PDF Acrobat Reader

So was dit – Stories van gister en vandag | Regional History

Johan van Wyk

’n Mooi (en lekker) begrafnis  
 
 
Van al die mooi dinge in hierdie gebroke maar tog mooi wêreld waarin ons leef, is 'n plaasbegrafnis op 'n pragtige lentedag ná vroeë reën iets om oor huis toe te skryf. Hartseer ook ja, natuurlik, maar dis 'n half lekker soort hartseer wat jou nie stroef stem nie maar met dankbaarheid vul en selfs kan inspireer ... 
Wanneer perskebloeisels in die vrugtetuin langs 'n ou plaasopstal in die namiddagwindjie ritsel terwyl 'n kis onder slepende sang uit swart kele stadig in die graf sak, is dit asof jy gemakliker vrede maak met die werklikheid van die dood. 

So was dit die ander dag toe ons my jare lange buurman en goeie ou maat, Neville  Schwarzer, op sy plaas by Tierpoort naby Bloemfontein begrawe het nadat hy ná 'n lang en heldhaftige stryd teen kanker, op 52 daarvan verlos is. 

Dis nie van vandag af dat 'n plaasbegrafnis my roer nie. Ek het daarmee grootgeword: die stowwerige rit in groot Ford-karre, die kis op die eettafel in die voorhuis, die stille stoet na die hoop vars grond, moeisaam gegrou in die harde aarde, en die laaste lied by die graf ... gedra deur ’n laatmiddagwindjie. 
Dit was meestal die ou Hallelujalied: “Oorkant die waters blinkend en bly / wag hul op my.”

Snaaks, maar die wind het altyd gewaai op plaasbegrafnisse. Dikwels was dit darem die voorspel tot reën – wat natuurlik 'n plaasbegrafnis "gemaak" het. Groot  reëndruppels wat op 'n kis neerplof, was in die dorre Noordweste die teken van 'n geseënde lewe. 

En moenie van die versterkings ná die tyd vergeet nie. Jy ontmoet nie die dood op ’n leë maag nie.

Van die lekkerste eetgoed wat ek ken, was op plaasbegrafnisse Ek het dit onthou toe die roubeklaers hulle plekke stemmig op die grasperk voor die opstal op Chez Nous rondom Neville se kis inneem. Langsaan het die gelaaide tafels in sagte sonlig onder ’n uitspansel vol wolke gestaan.

Die toneel is amper idillies. In die verte lê Wolwekop. Aan sy voet kronkel die Tierpoortrivier. Op die horison bot die bitterkaroo-bossies goudgeel ná die vroeë lentereën. Lammerskape lê dik en steunend in die opslag toe ons sing: “O, Heer my God / as ek in eerbied wonder . . ." 

Toe dag ek by myself: “Dood, waar is jou angel?” 

Wetende dat Neville, as hy kon, dit self sou gevra het – so mooi was alles. Om die waarheid te sê: Hy sou my aan my skouers gevat het, soos hy dikwels gedoen het, en laggend gebrul het: "Man, ou Johannie, dis nou grênd. Bakgat, my ou boetie!" 

En dan sou hy weggelê het aan die eetgoed. Vir hom was die lewe elke dag 'n lied en lekker kos die dankgesang. Twee weke voor sy dood stuur ek juis vir hom 'n bakkie afval waarvoor hy baie lief was. Maar hy het daar geen behae meer in gehad nie. 

By die eetgoed kom ek toe agter dat die dood wel 'n angel het. Klein Nevilletjie – sy pa en sy ma, Annatjie, se elfjarige knapie – staan naby my, sy handjies bleek om 'n bordjie koekies geklem. Ek druk sy skraal skouertjies teen my vas terwyl 'n toegemaakte hond hartverskeurend in 'n buitekamer tjank. Kinders en honde kry altyd die swaarste. 

Al wat kortgekom het vir die laaste lopie na die akkerboom, was 'n Massey-Ferguson-trekker. Verkieslik 'n rooi driesilinder 35 voor 'n molwaentjie ter ere van Neville se vernuf met dié trekkers waarvoor hy landwyd bekend was. Daar loop seker min Massey-Fergusons in Suid-Afrika waaraan sy groot, kundige hande nie gevat het nie.  

Maar dis nie sy eintlike nalatenskap nie. Dis eerder die wyse waarop hy in die moeilikste en pynlikste omstandighede denkbaar die goeie stryd gestry en die wedloop voltooi het. Daarvoor, deur die geloof tot aan die einde te behou is hy met verlossing bekroon. Soos Psalm 116:15 sê: "Kosbaar is in die oë van die Here die dood van sy gunsgenote …" 

Laatmiddag, ná die etery en geselsery met ou kennisse wat jy ál minder sien want niemand kuier meer saans op plase nie – raai hoekom – stryk ons verby die graf  bakkie toe.    

Die son is besig om te sak. Ek kyk vir oulaas terug en dink aan die Nederlandse verhoogkunstenaar Toon Hermans se dodevers: “Als ik aan het bed van een dode sta voel ik mij altijd de mindere . . .”  

Inderdaad.
 

  • Page
  • 1 |